VALS VERTROUE?
  Jeremia sê aan die inwoners van Jerusalem dat die Woord van die Here vir 23 jaar lank na hom gekom het en dat hy vroeg en laat met hulle gepraat het, dat die Here ook Sy dienaars, die profete, na hulle gestuur het, maar hulle het nie geluister nie (Jeremia 25:4). "Julle het nie eers probeer luister nie." In Jeremia 13 sê die Here dat Hy in stilte sal huil oor Sy volk se hoogmoed! Deur Sy Seun, Jesus Christus, gee God aan ons die Ewige Lewe. Jesus staan by die deur van jou hart en klop - glo soos 'n kind en maak die deur oop!
Moet asseblief nie toelaat dat jou verstand en redenasies in die pad staan nie. In Sy wysheid was dit die wil van God dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in Sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo (1 Kor. 1:21).
Ons hoef dus nie geleerd te wees om die Woord te verstaan nie - selfs die eenvoudiges verstaan dit, want dit is hoe God dit in Sy almag bedoel het!
Wanneer jy Jesus innooi en toelaat om in jou lewe in te gryp, weet jy jy het "wakker" geword! Dan staan jy aan die begin van 'n nuwe lewe waarin die Heilige Gees jou leer en die Lewende Woord vir jou oop en toeganklik maak!!
Bedink 1 Joh. 2:27: "…die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle alles en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie. Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly."
Geen mens is daartoe in staat om self uit eie krag die gebooie te onderhou nie. In Kol. 2 sê Paulus dat "hulle" (die Kolossense) dood is vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld, want hulle het saam met Christus gesterwe en dat hierdie reëls 'n skyn van wysheid het "maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie" (Kol. 2:23). Die Kolossense het "van God se genade gehoor en dit leer ken soos dit werklik is" (Kol. 1:6b). Hulle geestesoë was dus óóp! Hulle het die prediking gehoor en dit geglo! (Heb. 4:1,2).
Glo almal van ons vandag die prediking wat ons hoor en lees? Onthou, ons moet verander en soos kindertjies word om in God se Koninkryk in te gaan… Ons moet versigtig wees dat daar nie van ons weggeneem word dít wat ons dink ons het nie!
Paulus sê ook dat die liefde wat deur die Gees in hulle (die Kolos-sense) gewek is, sigbaar is en juis daarom vra hy vir God "dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle Sy wil duidelik sal laat ken sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang" (Kol. 1:9-10).
Waarom vra Paulus dit? Want hy het geweet dat die aanslae van Satan feller sal toeneem sodra hulle bewus word van hierdie geheime-nis en dit leer ken as die waarheid; trouens, dan besef 'n mens dat God jou uit die mag van die duisternis weggeruk het en jou onder die heerskappy gestel het van Sy Seun wat Hy liefhet. Dís Goddelike ingryping en God se genadige verlossingsplan! (Lees Kol.1:3).
Wanneer die Drie-enige God by jou kom woning maak, weet jy dat Goddelike ingryping jou daarvan weerhou om te volhard in sonde. Dan bedink jy die dinge wat vir God aanneemlik is en "in die middel van die nag staan jy [ek] op om God te loof!"(Ps. 119:62). En dan kan jy tot God nader in volkome geloofsekerheid!
God sê in Esegiël 36:27: "Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens My voorskrifte leef en My bepalings gehoorsaam en nakom." Dan verwyder Hy die hart van klip en vervang dit met 'n hart van vlees! "Dan hoef niemand meer sy medeburger te leer en vir sy broer te sê 'Jy moet die Here ken' nie" (Heb. 7:1).
Paulus vermaan die Hebreërs dat hulle moet oppas dat nie een van hulle agterbly omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. Hulle het die blye boodskap ontvang, maar nie geglo nie en daarom baat hulle nie daarby nie! (Lees Hebreërs 4:1-3).
Die seun wat volgens die loop van die natuur gebore is, het "die seun vervolg wat deur die Gees in die wêreld gekom het" (Verwys Gal. 4:29).
Dit is vandag nog so! Onthou die natuurlike mens en die mens wat uit die Gees lewe, sal nie tot 'n vergelyk kan kom nie. Hulle wat God deur die Gees dien, het 'n verborge lewe in God waarvan die wêreld niks weet nie en ook nie wil weet nie. (Lees Kol. 3:2 - 3).
Ons moet ook ag slaan op die woorde van Jesaja waar hy sê, "Hierdie volk eer God met hulle mond maar hulle hart is ver van Hom af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie" (Matt. 15:8-9).
Jesus Self het gesê: "Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard" (Matt. 10:34).
Ons redeneer by mekaar verby en beskerm heel dikwels ons eie, menslike pogings! Dit help niks om oor hierdie dinge te redeneer nie. Lees Titus 3:8-9. Onthou, as jy 'n ware dissipel van Jesus wil wees, sal jy jou eie lewe moet verloën en jy laat dan jou eie huisgenote (geestelik) agter - jou vrou, kind, skoonma, jou pa! "Nie met mag en met krag sal jy slaag nie, maar deur My Gees!" (Sag. 4).
Daar is nog tyd, maar dit raak min. Daarom, "Vandag, as julle Sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie" (Heb. 4:7b).
Ons moenie ons vertroue op leuens stel wat ons niks gaan baat nie. Die Judeërs was aan die slaap gesus en het onder 'n wanindruk verkeer dat hulle veilig is in die Here se tempel, maar hulle het voortgegaan met hul gruweldade. "Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!" (Jer. 7).
God sê egter dat Hy hulle sal verwerp (vers 15), want hulle is hardkoppig! "Julle is heidene in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook" (Hand 7:51).
Jesus Self het gesê dat Sy vol-gelinge dit moeilik sal hê! Bid elke dag vir vernuwing, vir bekering en moenie die Heilige Gees weerstaan nie. Hulle wat God deur die Gees dien, kan saam met Paulus getuig: "Ons weet God ken die bedoeling van ons harte en ons bid dat almal na aan ons dit ook sal verstaan!"
Jes 40:9 "….jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie!" Wees eerder aan God gehoor-saam as aan mense!
Onthou: God se Woord keer nie onverrigtersake na Hom toe terug nie!!
Estette Bredenkamp
082 8654 381

Indeks     Index